Netwerk24 – Spaar is nie ‘n straf nie

Die nuutste Old Mutual Spaar- en Beleggingsmonitor bevestig dat Suid-Afrikaners eindelik begin besef dat skuld vermy moet word, maar ons spaar nog nie genoeg nie.

Die meeste mense spaar nie vir hul kinders se opleiding nie, en 40% van die respondente het hoegenaamd geen vorm van formele aftreespaargeld nie.

Daar is baie faktore wat dié swak spaargewoontes dryf, maar ek glo die onderliggende rede is dat te veel mense spaar as iets negatiefs beskou, iets wat die hoeveelheid geld wat hulle nóú op prettige dinge kan bestee, verminder; daarom is spaar iets wat uitgestel word.

As ’n mens spaar egter in die regte gees benader, bewys ervaring dat dit jou sowel op kort as op lang termyn kan beloon.

Dis maklik om die langtermyn-aspek te verstaan. Uiteraard, as jy behoorlike voorsiening vir jou aftrede gemaak het, sal jy baie gelukkiger wees wanneer jy oud is – jy sal dalk selfs ervaar dat “goue jare” ’n werklikheid is, eerder as ’n cliché.

Maar die meeste mense worstel met die korttermyn-aspek. As jy geld opsy sit, is minder tog nou beskikbaar, of hoe?

Dis waar, maar dis ook waar dat ons dikwels skuldig voel oor baie van ons onbeplande besteding en ons voel ons moet onsself regverdig. In die praktyk is dit baie lekkerder om geld te bestee sonder enige sorge – en dís die beloning as jy weet dat jou besteding nóú nie jou toekoms gaan beïnvloed nie.

Op ’n praktiese vlak adviseer ek kliënte altyd om die eerste item op hul begroting hulself te maak. Hier moet hulle die geld noem wat hulle op hulself wil bestee, maar ook die geld wat hulle vir hul toekoms opsy wil sit.

Dit help om spaar in perspektief te plaas: Spaar is besteding op jouself – weliswaar in die toekoms, maar dis tot jou eie voordeel, nie iemand anders s’n nie.

As jy ’n begroting só benader, sal jy sien dat spaar iets is wat jy vir jouself doen.

Uiteraard is dié ingesteldheid teenstrydig met die heersende klem op kitsbevrediging, maar die waarheid is as ons nie leer om bevrediging uit te stel nie, sal ons geluk van korte duur wees.

Spaargeld kan ook gebruik word as ’n manier om ons kinders te help om ’n baie gesonder en meer volhoubare houding jeens geld op te bou.

Gestel jou gesin besluit om twee weke lank in Europa te gaan vakansie hou.

Die meer algemene benadering sal wees om dit met krediet te finansier, wat beteken al daardie euro’s word kwalik sorgvry bestee. Elke keer as jy R70 vir ’n koppie koffie betaal, sal jy daaraan dink dat dit nog betaal moet word… plus rente.

As jy dit eerder ’n gesinsprojek maak om oor drie jaar vir die reis te spaar, leer dit aan jou kinders ’n groot les en beteken dit wanneer julle met vakansie gaan, julle die geld hét en dat julle dit met ’n ligte gemoed kan bestee.

Dieselfde is op alle besteding van toepassing. Dit is net lekkerder as jy weet dit stel nie jou toekoms in gevaar nie.

In’t kort, ons moet leer om spaar te beskou as iets wat ons vir onsself doen, nie die een of ander teësinnige “aankoop” nie.

As jy ’n deeglike spaarplan het, verander dit die dinamika van jou plesier in die hede, want dit wat jy nou bestee, sal pure plesier wees – met niks wat in die toekoms betaal moet word nie.

  • Natasja Hart is hoof van GCI Wealth. GCI hou op die oomblik gratis beleggingseminare landwyd wat fokus op die verband tussen geldsake en geluk. Klik hier vir meer inligting.

Article Source: Netwerk24

Leave a Reply

Your email address will not be published.